Biografie


"Joshua na die Reën is 'n opwindende unieke nuwe stem op die Suid-Afrikaanse musiek horison. 'n Nuwe klank wat nog nie in Afrikaans gehoor is nie. 'n Oorspronklike liedjieskrywer en sanger met die mooiste melodieë. Luister gerus 'Dra die liggies'… 'Hardloop in die veld in'… en  'Lig op die Horison'... Daar was lanklaas 'n mooi nuwe gesig en stem wat so gesout agter die klavier inskuif en die wêreld oorrompel met sy songs!"

~ Jak de Priester

Joshua na die Reën behandel uiteenlopende temas in sy musiek – van vrolike tot introspektiewe. Die liriese inhoud van sy album is gebaseer op persoonlike ervarings en is ten alle tye eerlik, onpretensieus en outentiek.

Joshua na die Reën se agtergrond as uitvoerende kunstenaar tel in sy guns wanneer hy die ateljee betree. 'n Mens hoor deesdae selde 'n snit op radio wat nie gemanipuleer is deur middel van tegnologiese kulkunsies nie. Teenstrydig met hierdie tendens voel Joshua na die Reën gemaklik om agter die klavier in te skuif en 'n liedjie vas te vang met slegs een opname. Dit laat hom toe om die volronde, organiese klank van die verhoog af deur te trek en vas te vang in die ateljee.